Die Afrikaanse Departement se leuse is: Spanwerk lei tot uitnemendheid! Ons pluk die vrugte daarvan om as 'n span saam te werk, want elke jaar word ons beloon met baie goeie matriekuitslae. In 2005 het ons 29 A-simbole verwerf en daar was geen druipelinge in Afrikaans nie.
Hierdie jaar was vol uitdagings, want daar was baie skommelinge onder personeellede van die Afrikaanse Departement wat laat by ons aangesluit het en ander wat ons weer gedurende die jaar verlaat het. Me. Mavundla het reeds in 2005 by ons aangesluit en dit was nie seker vir hoe lank nie, maar hier is ons nou al weer aan die einde van 2006. Sy is 'n baie bekwame onderwyseres wat dadelik by ons ingeskakel het en werk van goeie gehalte gelewer het. Aan die einde van Februarie het Mnr. R. Dames weer by ons aangesluit (terug uit Frankryk waar hy Rugby gaan speel het). Mnr. Dames is 'n baie gewilde onderwyser onder die junior seuns en sy verhouding met die seuns het positief daartoe bygedra dat die seuns die vak geniet het. Mnr. Dames het weer 'n aanbod aanvaar om vir die volgende twee jaar in Frankryk te gaan Rugby speel.