Die jaar 2007 was 'n baie goeie jaar vir die Afrikaanse departement en sal vir lank gekoester en onthou word as 'n onvergeetlike hoogtepunt. Ons span het soos 'n goed geoliede masjien saamgewerk en dit was so 'liplekker', soos wat 'n morsige, taai toffie vir 'n klein kind is om aan te smul. Die matriekuitslae van 2006 was soos verwag: 29 A-simbole en geen druipelinge nie. Ons wil graag die aantal A-simbole in die matriekuitslae opstoot en as 'n span werk ons saam daaraan om die doel te verwesenlik.
Aan die begin van die jaar het twee uiters bekwame en ervare onderwyseresse by ons aangesluit om die vakante poste in ons departement te vul. Me. Wilma Adendorff, vanaf Grosvenor Boys' High School, was al lank op ons werwingslys en het uiteindelik na 'n twee jaar lange stryd, by ons aangesluit. Wat 'n aanwins!! - nie net vir die Afrikaanse departement nie, maar ook vir Glenwood High School. Me. Adendorff het onmiddellik ingeskakel en haar gewig ingegooi en het gou 'n onmisbare lid van die Glenwood gesin geword. Me. Cynthia Steyn het vanaf Phoenix Remedial School by ons aangesluit. Jare se onderwyservaring, uiterse bekwaamheid en 'n pragtige mens, het hierdie kort buksie baie vinnig diep in ons harte laat inkruip. Hierdie twee mense het 'n nuwe energie in ons departement ingeblaas en ons het heerlik saamgewerk. Daar was ook tyd vir lekker lag en pret.
Werk van baie goeie gehalte is vanjaar gelewer en daar was 'n tasbare selfvertroue en trots in die Afrikaanse Departement te bespeur. Hierdie rustigheid en selfvertroue het na die leerlinge toe deurgesyfer en daar was 'n kalmte en 'n positiewe gesindheid onder die leerlinge. Die VOO is nou in volle swang en ons leerlinge is heel vertroud met die nuwe sillabus en vereistes. Volgende jaar sal die huidige Gr 11-leerders dan die eerste groep wees wat die Nasionale Senior Sertifikaat eksamens aan die einde van 2008 skryf.